Friday, January 20, 2012

Sondag Werk

Dis Vrydagoggend! Ek is mal oor Vrydae - dit is my afdag. Ek het 'n afdag in die week omdat ek op 'n Sondag "werk". My vriende spot en sê ek werk net op 'n Sondag!

Vandag het ons deurgery Groenpunt toe. Alida moet iemand sien en ek het nog skaafwerk om te doen aan my preek vir Sondagoggend. Sy maak toe sommer die afspraak by Cafe Neo in "Beach Road".

Ek is mal oor die plek. Die rede - "free wifi". Ek sit op die oomblik aan 'n tafel saam met (laat ek gou tel) 15 mense. Almal met laptops besig met "iets".

Ek kyk na almal om my en wonder wat elkeen doen vir 'n lewe.

Oorkant my sit 'n ou wat nounet met iemand gesels het oor 'n testament. Hy lyk egter vir my soos 'n ontwerper. Langs hom is 'n vrou met 'n harikrishna plakker op haar laptop. Sy is in haar dertigs...moeilik om te plaas...dalk iets in die klere bedryf of een of ander leefstyl coach.

Langs my sit 'n ou wat werk aan 'n dokument met 'n groot "draft" watermerk. Ek kan nie te veel loer nie - netnou dink hy daar is iets fout (met my). As ek sou raai sou ek sê iets in finansies.

Die meisie oorkant my praat met 'n duitse aksent en is aangetrek asof sy op 'n safari gaan. Dalk vir 'n paar jaar werk kom doen in Suid Afrika en baie lief vir diere.

Ek wonder wat dink hulle as hulle na my kyk? Dalk lyk ek soos 'n ou wat net op Sondae werk en op 'n Vrydag tyd het om nonsens uit te dink oor ander.

Lekker naweek!

No comments:

Post a Comment